GESKIEDENIS
Hoërskool Bekker
geskryf deur mevrou Madaleen Bronkhorst
Op Donderdag 22 Augustus 1935 het mnr. EJC Kuschke, die eerste hoof van Bekker op die plaas Seekoeihoek aangekom. Mnr Simon Bekker, die destydse Administrateur van Transvaal, het tydens die depressiejare baie hard gewerk om ‘n Landbouskool op die been te bring, om die seuns van die boeregemeenskap ‘n geleentheid te gee met kennis toegerus te word.
Op die plaas het mnr Kuschke ‘n platdakhuis met 5 vertrekke gevind wat sou dien as die eerste koshuis, en wat 18 seuns sou huisves. Mnr Kuschke skryf drie jaar later in die skool se dagboek: “Ek was soos altyd weer op diens die vakansie. Dis nou 3 jaar dat ek geen van al die skoolvakansies kan neem omdat die bouwerk en die plaaswerk my persoonlike aandag elke dag van sonop tot sononder vereis. Die skool het as Bekker Skoolplaas bekend gestaan, en het toe reeds ‘n akademiese kurrikulum gevolg.
Hy het ook ‘n dieretuin op die plaas gevestig, en in Januarie 1942 word hy deur 3 leeus aangeval en is erg verniel. ‘n Tweede aanval later het hom ‘n jaar in die hospital gekos en hy het sy een been verloor.
Die verhaal hierbo spreek van toewyding van baie mense oor die afgelope 89 jaar om van Hoërskool Bekker die spogskool te maak wat hy vandag is. Die skool het akademies, op Landbou-, Sport- Kultuur- en Leierskapgebied floreer. Daarvan getuig die talle dokters, ingenieurs, ekonome en regslui wat die skool opgelewer het. Die skool rus vandag steeds op hierdie vyf pilare. Deel van die skool se geskiedenis het Hoërskool Bekker die volgende sterre opgelewer- vier Springbokrugbyspelers: Piet Botha, Dave Frederickson, Johan Strauss en Marco van Staden, een Nasionale snoekerspeler: Pierre Mans, ‘n Olimpiese atleet: Miranda Tinashe Coetzee én die bekende ekonoom, Mike Schusseler.
Die skool het in 1951 verdeel in ‘n Hoër en Primêre skool, wat van toe af as verskillende skole gefunksioneer het, maar staan steeds sy aan sy op die plaas Seekoeihoek. Die skool het toe bekend gestaan as die Hoër Landbouskool Bekker. Landbou was steeds die belangrikste komponent van die skool, en het as ‘n ekonomiese eenheid gefunksioneer.
In 1985 het die naam van die skool verander na Hoërskool Bekker, waarna dit as ‘n volledige akademiese hoërskool verander het, met ‘n landboustudierigting. Vakke soos Veekunde, Akkerbou en Plaaswerktuigkunde is op matriekvlak aangebied. In 1995 het die skool vir die eerste keer sy deure oopgemaak vir engelssprekende leerders en sedertdien is die skool parallelmedium in graad 8 en 9, en dubbelmedium van graad 10 – 12.
Oor die jare is die skool baie uitgebrei en daar het baie nuwe geboue tot stand gekom. Die skool het tans ongeveer 750 leerders wat van alle vlakke van die samelewing kom, wat ruimte bied vir leerders van alle kultuurgroepe. Die voertale is Afrikaans en Engels. Groot koshuisgeboue huisves ongeveer 400 seuns en dogters wat van oor die hele land kom, en soms selfs van buurlande.
Die plaas word vandag steeds as ‘n ekonomiese eenheid bedryf, en gewasse soos mielies word verbou. Bokke, skape, varke, hoenders en beeste is van die vee waarmee geboer word. Die landbouleerders is aktief betrokke by hierdie aktiwiteite. Leerders woon ook gereeld landbou inligtingsessies en werkswinkels soos KI by, en neem ook deel aan ploegkompetisies en skaapskeerkompetisies.
Bekker is ook aktief betrokke by die Jeugskou, en vorm die ruggraat van die Gauteng Jeugskouspan. Hier kry ook leerders wat nie landbouvakke neem nie, geleentheid om nou met diere en die plaaslewe in aanraking te kom.
Op akademiese gebied bied Bekker tans drie landbouvakke naamlik Landbouwetenskap, Landboubestuurspraktyk en Landboutegnologie aan. Op sportgebied was vas drie van ons rugbyspanne die Goue Leeus kampioene vir 2024.
Hier by Bekker poog ons om ons leerders op alle gebiede te ontwikkel en om elke leerder die kans te gee om sy volle potensiaal te ontwikkel. Ons bou ‘n goue toekoms in groen!
school hours
- Mon – Thu: 07:15 – 13:50
- Fri 07:15 – 13:30
GENERAL ENQUIRIES
Phone
general@bekkerhs.co.za
FINANCIAL ENQUIRIES
Address
R98, Plaas Zeekoehoek, Magaliesburg, Gauteng 1791
Postal Address
Private Bag X5002,
Magaliesburg, 1791